Mense gered wat al tot 15 j. slawe in Brittanje is
2011-09-13 08:55
Den Haag - ’n Groep slawe wat in skokkende omstandighede onder die neuse van die plaaslike bevolking aangehou is, is Maandagoggend vroeg deur die Britse polisie in die graafskap Bedfordshire, noord van Londen, bevry.
Sommige was slegs enkele weke in dié toestand; ander was al 15 jaar lank slawe. 17 van die 24 mans is Britte, 3 Pole, 2 Russe en 2 Roemene.
Die mans, meestal haweloos, is almal by sopkombuise en arbeidsburo’s gelok met beloftes van werk, huisvesting en lone. Hulle is dan na die Green Acres-woonwapark in Bedfordshire geneem waar hulle in beknopte, vuil woonwaens, skure en perdestalle toegesluit is.
Hulle moes swaar liggaamlike werk verrig, maar het nooit ’n pennie ontvang nie.
Die slagoffers was almal uitgeteer en in ’n swak toestand. Hulle is na ’n gesondheidsentrum geneem waar hulle etlike weke gehou sal word om te herstel.
Vier mans en ’n vrou is in die polisieklopjag kragtens die wet op slawerny en knegskap van verlede jaar in hegtenis geneem.
’n Woordvoerder van die Bedforshire-polisie het aan Britse media gesê die vermoede is dat die kamp slegs die oortjies van die seekoei is van ’n landwye slawerny-organisasie wat wêreldwyd in bedryf is en jaarliks miljoene ponde verdien.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld