Meisie versmoor om 'bose gees' uit te dryf
2011-09-27 12:30
Tokio – ‘n Dertienjarige meisie het versmoor nadat sy deur haar pa en ‘n monnik vasgebind en met water gespuit is in ‘n poging om ‘n “bose gees” uit haar te dryf, het die Japannese polisie en mediaberigte Dinsdag gesê.
Die 56-jarige monnik, Kazuaki Kinoshita, en die meisie se 50-jarige pa, Atsushi Maishigi, is in hegtenis geneem in verband met die dood van Tomomi Maishigi in Kumamoto in die suide van die land.
“Die twee word verdink van sameswering in wat hulle 'waterval-diens' noem... Hulle het die slagoffer glo met gordels aan ‘n stoel vasgebind en haar gesig met water gespuit,” op die aand van 27 Augustus, het ‘n plaaslike polisiewoordvoerder gesê.
Sy is vroeg die volgende oggend dood verklaar nadat haar ma ‘n ambulans laat kom het toe Maishigi haar bewussyn verloor het.
“Die oorsaak van haar dood is versmoring,” het die polisiebeampte gesê.
Volgens nuusberigte het die twee mans water op haar uitgegooi as ‘n manier om ‘n duiwel uit te dryf, met die pa wat sy dogter vasgehou het terwyl die monnik gedreunsing het.
Die meisie se ouers het die monnik glo genader nadat sy vir jare gesukkel het met sielkundige en fisieke siektes waarmee dokters nie kon help nie.
Die monnik, wat deel is van ‘n Boeddhiste-sekte, het gesê die meisie het ‘n bose gees in haar gehad, het die privaat-netwerk TBS gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP