Meisie gedwing om plofstof-baadjie te dra
2011-06-20 22:00
Timergerah – ‘n Negejarige meisie is blykbaar op pad skool
toe deur militante ontvoer en gedwing om ‘n baadjie waaraan plofstof gekoppel
was, aan te trek om ‘n aanval op ‘n kontrolepunt buite Timergarah, Pakistan, te loods.
Sohana Jawed, wat in graad 3 is, sê sy was
Saterdag op pad skool toe in Peshawar toe twee vrouens haar gryp en by ‘n motor in gedwing het.
Daar was blykbaar twee militante in die motor en hulle het met haar na die Laer Dir-distrik in die noordweste van Pakistan
gery.
Maandagoggend het haar ontvoerders haar
na ‘n kontrolepunt buite Timergarah geneem en gedwing om ‘n baadjie
waaraan plofstof gekoppel was, aan te trek.
Sy en een van die vrouens moes na die
kontrolepunt loop, maar Jawad het daarin geslaag om haar los te ruk uit die vrou
se greep.
Sy het na die paramilitêre magte gehardloop en
vir hulle gewys dat sy ‘n bom dra.
Haar ontvoerders het van die toneel af gevlug voordat die soldate hulle kon keer.
Dit is nie duidelik hoekom die bom, wat deur
middel van ‘n afstandbeheertoestel sou ontplof, nié afgegaan het nie.
Die polisie van die Laer Dir-distrik het Maandagmiddag
saam met Jawed ‘n mediakonferensie gehou.
Asif Khan, polisiehoof in Peshawar, kon egter
nie bevestig dat ‘n meisie Saterdag as vermis aangemeld is nie en het ook geen
rekord van ‘n inwoner genaamd Sohana Jawed nie.
Die polisie van die Dir-distrik het gesê hulle
sal die negejarige meisie verder ondervra, maar dat Jawed eers sielkundige
berading moet ontvang.
Volg Nuus24 op Twitter.