Meisie (15) skiet pa met boog toe hy foon vat
2011-05-28 09:48
Tahuya (Washington) – ’n Tienermeisie het haar pa met ’n pyl en boog geskiet omdat hy haar selfoon van haar weggeneem het.
Die 15-jarige het hom Woensdagaand met ’n pyl en boog waarmee gejag word, geskiet nadat hy haar gehok en haar foon weggeneem het, het William Adam, ’n speurder in die Mason-distrik, gesê.
Volgens die TV-kanaal KOMO-TV is die pa per helikopter van die landelike, beboste Tahuya-gebied na ’n hospitaal in Seattle, sowat 55 km daarvandaan, gebring. Sy toestand is kritiek.
Volgens Adam het die meisie ná die voorval die bosse agter haar ouerhuis ingevlug waar polisiebeamptes haar omsingel en in hegtenis geneem het.
– Sapa-AP