Meisie (12) skenk geboorte op skooluitstappie
2011-03-29 23:00
Den Haag - ‘n Twaalfjarige Nederlandse meisie het geboorte geskenk aan ‘n babameisie tydens ‘n skooluitstappie, het die plaaslike gesondheidsdienste Dinsdag gesê.
“Nie die meisie of haar gesin het besef sy is swanger nie. Daar was geen uitwendige tekens om daarop te dui nie,” het ‘n woordvoerder van die gesondheidsdienste gesê. Hy het bygevoeg hy weet nie hoeveel maande die meisie al swanger was nie.
Die meisie, wat van Groningen in die noorde van die land kom, was verlede Dinsdag op ‘n daguitstappie saam met haar klasmaats toe sy skielik erge maagpyne gekry het.
‘n Toesighouer het gedink die pyne is verdag en het die nooddienste geskakel.
Toe ambulanspersoneel gearriveer het, het hulle gesien die meisie was op die punt om geboorte geskenk. Hulle het haar na ‘n nabygeleë gebou gehaas, waar sy geboorte geskenk het.
Dit gaan goed met beide van hulle in die kraamsaal van ‘n Groningen-hospitaal, het die woordvoerder gesê.
‘n Maatskaplike werker is aangestel om na die welstand van die baba om te sien. Dit is standaardpraktyk in Nederland in sulke gevalle.
- Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP