Meer lig op mislukte reddingspoging in Mali
2011-01-13 23:00
Parys - Nege mense, wat vier vermeende ontvoerders, drie Nigerse polisiebeamptes en twee gyselaars insluit, is dood in ‘n dramatiese mislukte reddingspoging in die Mali-woestyn, het ‘n senior Franse aanklaer Donderdag gesê.
Die Franse eerste minister, Francois Fillon, het gesê die ontvoerders het die gyselaars, Vincent Delory en Antoine De Leocour (albei 25), koelbloedig geskiet terwyl die ontvoerders se voertuig gejaag is.
De Leocour was ‘n voormalige bystandwerker wat volgende week met ‘n vrou van Niger sou trou. Delory was sy strooijonker, wat enkele ure voordat hulle uit ‘n restaurant in Niamey ontvoer is in die land aangekom het.
‘n Ondersoek is van stapel gestuur om verskeie vrae ná Saterdag se gebeure op te klaar. Franse troepe was in stryd met ontvoerders van Al-Kaïda se takke in Noord-Afrika.
Veiligheidsmagte in Mali het gesê Franse helikopters het op die voertuie van die ontvoerders in die noorde van Mali, waar die uitgebrande wrak van die voertuig waarin hulle die gyselaars ontvoer het gevind is, losgebrand.
Jean-Claude Marin, senior aanklaer, het gesê geen vermeende ontvoerders word “op die oomblik” aangehou deur die owerhede in Niger nie, ondanks die Franse minister van verdediging, Alain Juppe, se vroeëre verklaring dat twee gevangenes oorgehandig is.
Hy het ook gerugte ontken dat die twee 25-jarige Franse gyselaars spesifiek geteiken is. Hy het gesê skieters het hul teikens lukraak in ‘n restaurant gekies.
- Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP