Meer as 700 polisielede geskors
2009-09-14 13:07
Pesjawar - Owerhede in Pakistan het meer as 700 polisielede geskors omdat hulle nie by die werk opgedaag het nie.
Die gemeenskapspolisie, of Khasadar, in die Khyber stamgebied-strook is deur ’n militante vegter, Mangal Bagh, in ’n radiouitsending gedreig met sware strawwe sou hulle dié week werk toe gaan.
"Ek het 715 Khasadar afgedank omdat hulle geweier het om te werk ná die dreigemente," het die top-administratiewe amptenaar in Khyber, Tariq Hayat, gesê.
Die berugte Khyber-gebied van Pakistan grens aan Afganistan en word deur gemeenskapspolisie beveilig.
Militante rebelle het kort ná die radiouitsending drie Khasadars se huise opgeblaas, het inwoners gesê.
Die militante kommandeur Bagh het verhoudinge met die Taliban.
- Sapa-AFP