Meer as 50 pelsrobbe spoel op Aus strand uit
2012-01-17 11:01
Adelaide – Meer as 50 dooie pelsrobbe het op ‘n strand in die suide van Australië uitgespoel in omstandighede wat nog nie verduidelik kon word nie, het omgewingsbeamptes Dinsdag gesê.
Die vonds is Sondag in die Lincoln Nasionale Park gemaak. Drie van die robbe is vir nadoodse ondersoeke na die Universiteit van Adelaide geneem.
Die Suid-Australiese departement van omgewings- en natuurlike hulpbronne het gesê 51 van die uitgespoelde beskermde spesies was jonk en twee kan as jong volwassenes beskou word.
“Daar is geen teken van vuilspel nie. Ons mense reken die pelsrobbe is al vir 'n week lank dood,” het ‘n woordvoerder gesê.
“Omdat dit so ‘n groot hoeveelheid is, is ons baie bekommerd en hoop ons om na die nadoodse ondersoek meer oor die omstandighede te weet.”
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP