Meer as 200 mense sterf in snerpende koue
2012-02-04 08:46
Kiëf – Meer as 200 mense het reeds gesterf in ’n ysige week vir Europa terwyl temperature nuwe laagtepunte bereik het.
In Tsjeggië is nagtemperature van so laag as -38,1°C gemeet en selfs in Rome het dit gesneeu.
Die getal mense wat in die afgelope week se bittere koue gesterf het, het tot 218 gestyg.
In die Oekraïne het die dodetal skerp gestyg na 101. Hiervan was 64 slagoffers dakloos. In Pole het temperature tot -35°C getuimel.
In Bulgarye het dit so koud geword dat dele van die Donourivier gevries het.
Meer as 1000 Bulgaarse skole was gister vir ’n derde dag in ’n ry gesluit weens sneeu en snydende wind.
Die Britte moet hulle ook staal vir sneeu nadat temperature in die suidooste van Engeland tot -11°C geval het. Die weerkantoor het gesê die skielike koue weer kan mense onkant betrap ná ’n warmer as normale winter tot dusver.
Inwoners van Rome het maar hul tweede dag van sneeu in die afgelope 15 jaar beleef. Sneeu het tot 40cm dik in die noordelike voorstede gelê.
Bakens soos die St. Petrus-plein is onder sneeu bedek. Die ysige toestande het gelei tot die sluiting van die Colosseum en die Romeinse Forum vir toeriste.
– Sapa-AFP-Reuters
– Volg Nuus24 op Twitter