Meer as 100 burgerlikes in Sirië ontvoer
2013-02-15 15:18
Beiroet – Meer as 100 burgerlikes is in aparte voorvalle deur gewapende groepe in die Siriese provinsie Idlid ontvoer, het ‘n waghond Vrydag gesê.
Die groep het kommer uitgespreek in wat hy as “sektariese ontvoerings” beskryf het.
Die Siriese Waarnemers vir Menseregte het gesê die ontvoerings in die noordwestelike provinsie het Donderdag plaasgevind.
‘n Groep van sowat 70 mans en vroue wat in vier minibussies was, is naby ‘n weermag-soekpunt deur gewapende mans ontvoer terwyl hulle na die provinsiale hoofstad Idlib op pad was, het die groep gesê.
“Die ontvoerders is van die dorpe Al-Fua en Kafraya, waar die meerderheid mense Sjiïties is, terwyl die passasiers van Saraged, Sarmin en Binnish was, wat grootliks deur Sunni-Moslems bewoon word.
Slegs ure voor hul ontvoering het ‘n ander gewapende groep minstens 40 ander burgerlikes, meestal vroue en kinders, in dieselfde gebied ontvoer, het die waghond bygevoeg.
Die ontvoerdes was op ‘n bus van Al-Fua en Kafraya op pad.
Die meeste van die Siriese rebelle wat veg teen soldate wat getrou is aan pres. Bashar al-Assad is Sunni, terwyl die president se soldate aan ‘n groep van Sjiïtiese Islam behoort.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP