Meeluisterskandaal: Sowat 800 slagoffers betrek
2011-12-10 17:52
Londen – Die Britse polisie het Saterdag gesê die totale aantal slagoffers in die meeluisterskandaal by Rupert Murdoch se News of the World-poniekoerant behoort ongeveer 800 te wees.
Dié syfer is minder as wat aanvanklik verwag is.
Die beampte van Scotland Yard wat die ondersoek na die meeluisterskandaal lei het gesê die polisie was nou in kontak met alle partye wie se stemboodskappe onwettig afgeluister is.
Scotland Yard het slegs 'n maand gelede nog gesê die hoeveelheid slagoffers kan by 5 800 draai. Dié voorspelling is gemaak op grond van name wat gevind is in dokumente wat behoort aan Glenn Mulcaire, 'n privaat speurder wat agter tralies is ná 'n meeluisterskandaal in 2007.
"Ons is seker ons het persoonlik kontak gemaak met al die mense wie se boodskappe gekraak is, of moontlik gekraak is," het Sue Akers van Scotland Yard gesê.
"Daar is nog heelwat mense waarmee ons moet praat wat potensiële teikens was, maar wie se boodskappe waarskynlik nie gekraak is nie."
'n Woordvoerder vir Scotland Yard het die nuus bevestig: "Operasie Weeting (die ondersoek na die meeluisterskandaal) het kontak gemaak met of is gekontak deur 2 037 mense, waarvan sowat 803 'slagoffers' is, wie se name in die dokumente verskyn het."
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP