Media-skandaal: Oud-polisiehoof oor die kole gehaal
2011-07-19 14:28
Kaapstad – Twee hooggeplaasde polisiebeamptes van Brittanje se metropolitaanse polisiediens word deur LP’s ondervra oor die polisie se rol in die poniekoerant News Of The World se afluisterskandaal.
Die polisiekommissaris sir Paul Stephenson en John Yates, assistent-kommissaris, het onlangs bedank as gevolg van ondersoeke na hul verhouding met News Of The World en die poniekoerant se voormalige adjunk-redakteur, Neil Wallis, het Sky News berig.
Stephenson het eerste voor ‘n komitee in Londen verskyn in verband met die afluisterskandaal.
Die skandaal het die media-magnaat Rupert Murdoch se maatskappy, die Britse polisie en die regering geruk nadat verskeie aantygings teen die media-reus aan die lig gekom het.
Stephenson het Sondagaand bedank ná aantygings oor Scotland Yard se bande met Murdoch se mediagroep.
Hy het sy bedankingsverklaring gebruik om die Britse premier, David Cameron, se rol in die saak te opper.
Stephenson het Cameron gekritiseer omdat hy Andy Coulson, ‘n oud-redakteur van die poniekoerant, as sy kommunikasiehoof aangestel het, het Sapa-AFP Maandag berig.
Stephenson het egter Dinsdag vir die komitee gesê sy verklaring was nie ‘n aanval op Cameron nie.
Yates het slegs ‘n dag ná Stephenson bedank.
News of the World, wat meer as twee weke gelede gesluit het, word daarvan aangekla dat die poniekoerant sedert 2000 sowat 4 000 mense, waaronder politici, bekendes en misdaadslagoffers, se stemposboodskappe afgeluister het.
Die verrigtinge duur voort.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Nuus24