Mederuimtevaarders treur oor Neil Armstrong
2012-08-26 07:52
Fotogalery - Neil Armstrong sterf
klik op klein foto bo om groter prentjie te sien
Washington – Neil Armstrong se mederuimtevaarders, Buzz Aldrin en Michael Collins, het hulde gebring aan sy talent en prestasies en gesê hulle gaan hom mis.
"Elke keer as ek na die maan kyk, herinner dit my aan die oomblik vier dekades gelede, toe ek besef het dat hoewel ons verder van die Aarde af is as wat twee mense al ooit was, was ons nie alleen nie," het Aldrin in 'n verklaring gesê.
"Die hele wêreld het daardie onvergeetlike reis saam met ons onderneem. Ek weet miljoene ander treur saam met my oor die dood van 'n ware Amerikaanse held en die beste vlieënier wat ek ooit geken het."
Armstrong se familie het Saterdag aangekondig dat die ruimtepionier weens komplikasies ná 'n hartoperasie dood is. Hy was 82 jaar oud.
Aldrin het gesê hy het altyd gehoop dat hy, Armstrong en Collins mekaar in 2019 vir die 50ste herdenking van Apollo 11 sou ontmoet.
"Ongelukkig kan dit nie gebeur nie. Neil sal definitief saam met ons in gees daar wees.
"Ek gaan my vriend Neil mis."
Collins het in 'n verklaring gesê: "Hy was die beste en ek gaan hom vreeslik mis".
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP