Matrose ná 'n jaar deur seerowers vrygelaat
2012-01-13 17:05
Istanboel – Die leiers van Georgië en Turkye het 15 Georgiese en drie Turkse matrose terug verwelkom wat vrygelaat is meer as ‘n jaar nadat hulle Griekse skip deur Somaliese seerowers gekaap is.
Mikhail Saakashvili, president van Georgië, en Recep Tayyip Erdogan, premier van Turkye, het Vrydag die 18 matrose by Istanboel se Ataturk-lughawe ontmoet. Die matrose is Sondag vrygelaat.
Die bemanningslede was op die skip Olib van Egipte na Indië onderweg toe dit op 8 September 2010 deur seerowers gekaap is.
Die leiers het gesê dat Georgië en Turkye “gesamentlike pogings” en diplomatieke onderhandelinge gebruik het wat op die ou end die veilige vrylating van die matrose tot gevolg gehad het.
Dit is nie duidelik of enige losprys betaal is nie.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AP