Massiewe kinderhandel-groepe in China oopgevlek
2011-12-07 10:07
Beijing – Meer as 600 verdagtes is in hegtenis geneem en 178 kinders is gered nadat die Chinese polisie twee massiewe kinderhandel-groepe oopgevlek het, het die regering gesê.
Kinderontvoering en -handel is algemeen in China. Talle kenners meen dié land se streng beleid om net een kind te hê en lakse reëls oor aanneming veroorsaak die probleem.
Ná die polisie verskeie wenke opgevolg en bewyse ingesamel het, het meer as 5 000 polisiebeamptes in tien verskillende provinsies in China altesaam 608 verdagtes vasgetrek. Hulle het ook 178 kinders gered.
Volgens die departement van openbare veiligheid is die kinders na welsynsagentskappe geneem. Die verklaring sê nie hoe oud nie kinders is nie.
Die lakse aannemingsreëls vir kinderlose paartjies in China het tot ‘n groot mark vir ontvoering en die koop en verkoop van kinders gelei.
Talle akademici blameer ook die probleem op die nasie se streng beleid dat burgers slegs een kind mag hê.
Die meeste paartjies wil seuns hê sodat die familie ‘n manlike erfgenaam kan hê.
Gevolglik sal ouers wat nie ‘n seun kan kry nie of ‘n tweede kind wil hê oorweeg om een te koop. Babadogtertjies word dan dikwels aan kinderhandelaars verkoop.
Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP