Massamoord op Britse eiland skok inwoners
2011-08-15 10:04
Londen – Altesaam ses mense, insluitende twee jong kinders, is dood in ‘n mesaanval op die Britse eiland Jersey, het die polisie gesê.
Volgens die polisie is ‘n man Sondag in hegtenis geneem in verband met die moorde.
Bure sê die massamoord het in ‘n woonstel in die hoofstad, St. Helier, gebeur. Die moorde het glo lede van dieselfde familie betrek.
Die polisie sê die slagoffers is twee mans, twee vroue en twee jong kinders. Hulle was almal Jersey-inwoners.
Volgens die polisie het die 30-jarige moordverdagte ongespesifiseerde beserings opgedoen. Sy toestand is nie lewensgevaarlik nie.
Van die bure sê hulle dink sekere van die slagoffers was Poolse mense.
Andre Thorpe, ‘n ooggetuie, sê die polisie het rondom die eiendom gehardloop en probeer om toegang tot die woonstel te kry. Paramedici het daarna ‘n bebloede kind uitgedra.
Volgens supt. Stewart Gull moet polisiebeamptes nog die ouderdomme van die slagoffers asook die omstandighede rondom die aanval vasstel.
Hy sê die misdaad het “almal geskok.”
Gewelddadige misdaad op Jersey – ‘n Britse eiland wat sowat 22 km wes van Frankryk se Normandiese skiereiland geleë is – is baie skaars. Jersey is die grootste van Brittanje se kanaaleilande en het minder as 100 000 inwoners.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AP