Maoïstiese rebelle moor 11 in Indië
2011-12-04 16:54
Patna – Maoïstiese rebelle het 11 mense in aanvalle in ‘n oostelike Indiese staat doodgemaak nadat hul leier in ‘n skietgeveg met veiligheidsmagte gesterf het, het die polisie gesê.
Die rebelle het Sondag voor sonsopkoms spoorweë op twee punte opgeblaas in Jharkhand, ure nadat hulle ‘n polisiekonvooi met gewere en plofstof aangeval het.
Tien beamptes en ‘n jong seun is in dié aanval dood, het supt. D.V. Sharma gesê.
Nog ‘n beampte is in die hospitaal opgeneem met beserings. Inder Singh Namdhari, ‘n voormalige speaker in Jhakrhand wat in die konvooi gereis het, het ongedeerd ontsnap.
Die rebelle het Sondag ook ‘n selfoontoring in die suidwestelike Bihar-staat, op die grens met Jharkhand, aan die brand gesteek en gesweer om Maandag verder chaos te saai. Hulle betoog teen die dood van Koteshwar Rao, ook bekend as Kishanji, op 24 November.
Die rebelle staan ook bekend as Naxalites. Hulle teiken dikwels polisie- en regeringsbeamptes.
- Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AP