Mans verwoes gemmerbroodhuise
2009-11-24 14:09
Oslo – Twee mans is deur die polisie ondervra nadat honderde gemmerbroodhuise oor die naweek vernietig is.
Volgens die polisie was die twee mans (onderskeidelik 21 en 26) laat Maandag in hegtenis geneem, en kort voor middernag na hul ondervraging weer vrygelaat. Die ondersoek is steeds aan die gang.
Bergen, ‘n stad aan die Weskus van Noorweë, hou sedert 1991 gereeld uitstallings van gemmerbroodhuise. Hulle is die wêreld se grootste gemmerbrood-stad, en doen dit in die aanloop tot die vakansieseisoen.
‘n Plaaslike koerant waarborg ‘n donasie vir elke gemmerbrood huis en skenk dit aan die Save the Children liefdadigheidsorgansiasie.
Ná die vandalisme, het plaaslike besighede ‘n belonging van ongeveer R133 000 aangebied.
Intussen het inwoners van Bergen aan die werk gespring om nuwe gemmerbroodhuise te bak.
Die opening van die uitstalling is tot volgende week uitgestel, en gee sodoende ‘n kans aan skole en dagsorgsentrums om nuwe gemmerbroodhuise te bak.
Sekuriteitsmaatreëls is verskerp waar die gemmerbroodhuise uitgestal gaan word.
- Sapa-dpa