Mans vang 'grootste krokodil ooit'
2011-09-06 15:47
Manila – ‘n Reuse-soutwaterkrokodil wat meer as ‘n ton weeg is in ‘n afgeleë Filippynse dorp gevang nadat die reptiel glo talle mense en diere aangeval het, het beamptes Dinsdag gesê.
Die krokodiljagter Rollie Sumiller sê die reptiel is 6,4 m lank en weeg 1 075 kg.
Volgens Sumiller het dié krokodil waarskynlik ‘n boer en talle waterbuffels in die dorp Bunawan opgevreet. Dié boer het in Julie spoorloos verdwyn.
Volgens die omgewingsdepartement het ‘n krokodil ‘n tienermeisie se kop in dieselfde dorp in 2009 afgebyt.
Josefina de Leon van die departement sê die reptiel is waarskynlik die grootste krokodil wat al ooit gevang is.
Sumiller sê sy dink die manlike krokodil was meer as 50 jaar oud.
Sy sê die gemeenskap was “verlig” nadat die massiewe reptiel gevang is.
Die span wat die krokodil gevang het, het sedert 15 Augustus die reptiel probeer vang.
Die dier is Saterdagaand uiteindelik deur 30 plaaslike mans gevang.
Edwin Cox Elorde, burgemeester van Bunawan, sê die plaaslike regering het daarteen besluit om die reptiel uit te sit. Die regering wil eerder ‘n natuurpark vir die reptiel bou.
“Hy’s ‘n probleem-krokodil wat uit die wildernis geneem moet word,” het Sumiller verduidelik.
- Kyk na 'n video en foto's by Sky News
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP