Mans in video ís ontvoerde Estlanders
2011-04-20 18:15
Tallinn - Estland se ministerie van buitelandse sake het Woensdag bevestig dat sewe mans wat in ‘n video om hulp smeek wél die toeriste is wat verlede maand in Libanon ontvoer is.
“Die mans in die video is die sewe Estlanders wat in Libanon ontvoer is,” het die ministerie se woordvoerder, Minna-Liina Lind, aan AFP gesê.
Die video, wat laat Dinsdag op Youtube gelaai is, toon hoe die mans Libanese, Saoedi-Arabiese, Jordaniese en Franse owerhede smeek om hulle te help om tuiswaarts te keer.
Lind het bevestig die video is ook Dinsdagaand aan die ministerie gestuur.
“Verskeie instellings probeer nou uitklaar van waar die video op die Internet geplaas is. Ons wil nie kommentaar lewer oor die e-pos-adres van waar die video aan die ministerie gestuur is nie,” het sy gesê.
Die sewe mans, wat op ‘n fietstoer in Libanon was, het op 23 Maart vermis geraak in die oostelike Bekaa-vallei nadat hulle Libanon deur Sirië binnegegaan het. Die motief vir die ontvoering is steeds onduidelik.
Elf Libanese is verlede week in verband met die ontvoering in hegtenis geneem.
‘n Groep wat tot dusver onbekkend was, Haraket Al-Nahda Wal-Islah (Die Beweging vir Vernuwing en Hervorming), het gesê hulle is verantwoordelik vir die ontvoering en het ‘n ongespesifiseerde losprys vir hul vrylating geëis. Veiligheidsbeamptes kon nog nie bevestig of dié groep wel verantwoordelik is nie.
Owerhede meen die Estlanders is moontlik oor die grens na Sirië geskuif.
- Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP