'Zombie-aanval': Man dalk blind
2012-06-13 13:03
Miami – ‘n Hawelose man wat die slagoffer was van 'n bisarre aanval waarin sy gesig gebyt is, sterk goed aan maar kan dalk blind word, het dokters Dinsdag gesê.
Ronald Poppo is op 26 Mei in 'n kritieke toestand in die hospitaal opgeneem ná die voorval in Miami wat sommige mediaberigte die "zombie-aanval" genoem het.
"Hy het weens die aanval sy linkeroog verloor en sy regteroog is erg beskadig en kan dalk blind word," het Nicholas Namias, hoof van die trauma-eenheid by die Jackson Memorial-hospitaal, tydens 'n mediakonferensie aan verslaggewers gesê.
Die 65-jarige het 'n breinbesering weens die aanranding opgedoen en het "twee raaiselagtige gaatjies in sy bors", het hy bygevoeg.
Owerhede is steeds besig om die aanranding te ondersoek wat op 'n besige hoofweg in Miami plaasgevind het. Die aanranding is gestop nadat die polisie die 31-jarige aanvaller, Rudy Eugene, doodgeskiet het.
Die polisie het min besonderhede bekendgemaak, maar beeldmateriaal het gewys hoe Eugene vir Poppo uit die koelte trek, sy klere uittrek en slaan, waarna hy oor hom buk en dan op hom lê.
‘n Getuie het beskryf hoe Eugene aan Poppo se gesig gebyt het en vir ‘n polisiebeampte gegrom het toe dié hom beveel het om van die hawelose man af te klim.
Op 'n vraag oor die gaatjies in Poppo se bors het dokters gesê dis dalk veroorsaak toe die polisie die aanvaller gekonfronteer het.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP