Man wen saak na sirkus sy olifant 'verloor'
2010-12-22 12:03
Wellington - 'n Nieu-Seelandse man het 'n hoofsaak teen 'n sirkus gewen nadat hulle vir hom gesê het sy olifant is weg en die sirkus dus nie meer die man se dienste benodig nie.
Die owerhede het Woensdag bevind dat Tony Ratcliffe, wat die afgelope 30 jaar na Jumbo die olifant omsien, onregverdig afgedank is. Hy het glo in 2008 die olifant aan die Australiese sirkus Loritz Bros. verkoop en toe opgetree as die dier se opasser.
Ratcliffe het glo by die sirkusbase gekla oor die manier waarop Jumbo aan die publiek 'uitgestal' word sodat toeskouers die dier kan voer.
Toe hy later by die kamp kom waar Jumbo moes wees, is daar aan Ratcliffe vertel dat hulle die olifant 'verloor' het.
Na 'n paar dae lees hy toe in die koerant dat die olifant aan die plaaslike DBV oorhandig is.
Die sirkus is beveel om Ratcliffe 26 000 Nieu-Seelandse dollar, oftewel R131 000, te betaal
Jumbo is nou te sien by die Franklin-dieretuin, suid van Auckland, waar sy gerehabiliteer word.
- Sapa-AFP