Man wat deurgeloop het onder Gordon Ramsay pleeg selfmoord
2010-09-28 18:28
New York – ‘n Restaurateur van New Jersey wat bekendheid verwerf het as een van die bekende sjef Gordon Ramsay se slagoffers op die televisieprogram “Kitchen Nightmares”, het selfmoord gepleeg in die Hudson-rivier, het amptenare Dinsdag gesê.
Joseph Cerniglia, die 39-jarige eienaar van ‘n Italiaanse restaurant genaamd Campania, was in die 2007 episode van “Kitchen Nightmares” te sien waar Ramsay hom beskuldig het van swak diens en lae gehalte kos.
Hy het op televisie erken dat hy byna bankrot is, met Ramsay wat hom gewaarsku het dat die besigheid op pad was om “by die Hudson af te swem.”
Cerniglia se lyk is in die rivier gevind nadat hy glo van die George Washington-brug, wat New York met New Jersey verbind, gespring het.
“Dit was selfmoord. Hy het die water hard getref en gevolglik verdrink. Hy het van baie hoog gespring,” het die New Yorkse nadoodse ondersoekbeampte aan AFP gesê.
Cerniglia was die tweede persoon wat in een van Ramsay se programme was wat selfmoord gepleeg het, het die New York Post berig.
Rachel Brown, 41, het deelgeneem aan die “Hell’s Kitchen”-reeks in 2006 en het haarself in Texas geskiet.
Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP