Man wat brein eet vasgetrek
2012-02-02 16:59
Bridgeport, Connecticut – 'n Amerikaanse man wat daarvan aangekla is dat hy 'n hawelose man met 'n byl doodgekap en toe sy brein geëet het, is Woensdag deur 'n hof beveel om psigiatriese evaluering te ondergaan.
Dit was Tyree Lincoln Smith (35) se eerste hofverskyning sedert hy Dinsdag na Connecticut terugggekeer het nadat hy verlede week in Florida gearresteer is.
Die Connecticut Post berig dat die regter beveel het dat Smith psigiatriese evaluering moet ondergaan en hy sal ook in aanhouding bly.
Smith se volgende hofverskyning is op 14 Februarie.
Hy word daarvan aangekla dat hy Angel Gonzalez op 15 Desember vermoor het. Gonzalez se lyk is op die derde vloer van 'n verlate huis gevind.
Talitcha Frazier, skoonsuster van die slagoffer, het gesê sy onthou sy het Smith langs die straat gesien vir kleingeld vra.
"Ek dink ek het toe aan hom gesê om 'n werk te kry. Ek het toe geen idee gehad dat hy my swaer vermoor het nie," het Frazier na afloop van die hofverrigtinge gesê.
Smith is aangekeer nadat een van sy familielede die polisie gekontak het om te sê dat hy "bloed aan sy hande wil hê".
Smith het toe na die verlate huis gegaan, waar hy eers gewoon het, en die volgende dag teruggekeer na die familielid se huis met bloed aan sy broek, hande en 'n byl.
Hy het toe aan sy familielid gesê dat hy "bloed aan sy hande gekry het".
Smith het aan sy familielid vertel hy het op die stoep van die verlate huis geslaap toe hy deur 'n ander man wakker gemaak en na binne genooi is.
"Hy het toe aan my beskryf hoe hy die man se gesig met die byl geslaan het en een van sy oë en brein uitgehaal het, wat hy toe by 'n nabygeleë begafplaas geëet het," het die familielid in 'n polisieverklaring gesê.
Die familielid het aan speurders gesê dat sy Smith se ma gekontak het, wat voorgestel het dat hulle saam met die polisie op 16 Desember na die verlate huis gaan.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA