Man vermoor vrou in sy slaap
2009-11-18 02:58
Londen – ‘n Britse man het sy vrou in sy slaap vermoor omdat hy gedroom het dat sy ‘n dief is wat by hulle karavaan wou inbreek.
Brian Thomas, wat aan ‘n slaapversteuring ly, het erken dat hy sy vrou, Christine, vermoor het, maar pleit nou onskuldig.
Die 59-jarige, wat twee volwasse dogters het, het Dinsdag aan die hof vertel dat hy gedroom het hoe iemand by hulle karavaan ingebreek het en hy die inbreker getakel het.
Na bewering het Thomas later wakker geskrik en sy vrou dood langs hom in die bed gevind. Hy het die polisie gekontak en gesê dat hy moontlik sy vrou vermoor het.
Volgens kundiges wat die saak ondersoek kon Thomas sy vrou vermoor het terwyl hy in ‘n diep slaap was.
Thomas se regsverteenwoordiger het gesê dat hierdie ‘n “baie vreemde” saak is en gepleit dat Thomas nie aan moord skuldig gevind moet word nie.
Die saak sal Woensdag voortduur.
–Sapa, AFP