Man vermoor ná hy te lank in toilet draai
2012-01-30 14:00
Nieu-Delhi – 'n Ses-en-twintigjarige man is in Moembaai vermoor nadat hy in 'n geveg betrokke geraak het omdat hy te lank in 'n openbare toilet draai, het 'n verslag Maandag bekendgemaak.
Die slagoffer en verdagte was albei inwoners by 'n woonhuis waar hulle geriewe moes deel.
Simon Lingeree het Saterdag die toilet gebruik toe Santosh Kargutkar ongeduldig geword het terwyl hy in die tou moes wag, het die Times of India koerant berig.
Nadat Lingeree uit die toilet gekom het, het hulle in 'n argument betrokke geraak.
"Dit was eers net 'n woordewisseling maar Kargutkar het daarna vir Lingeree begin aanrand," het insp. Ramrao Desai gesê.
Kargutkar het Lingeree op 'n sensitiewe plek op sy kop geslaan en hy het gesterf.
Daar was geen wapens betrokke nie.
Die verdagte het van die toneel gevlug maar is later in hegtenis geneem en van moord aangekla, het Desai gesê.
Inwoners van die woonhuis het owerhede gekritiseer omdat hulle nie behoorlike geriewe aan hulle verskaf nie.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA