Man verkrag glo kind, begrawe haar lewendig
2010-04-08 02:56
Kingston – ‘n Taxi-bestuurder van Jamaika het na bewering ‘n 12-jarige meisie verkrag en haar toe lewendig begrawe, het owerhede Woensdag gesê.
Garsha Wilson staan tereg op aanklagte van verkragting, ontvoering, poging tot moord en wreedheid teenoor ‘n kind.
Wilson het glo die meisie verlede maand by ‘n busstasie in Kingston ontvoer en haar na ‘n huis geneem.
Hy het haar glo by dié huis verkrag en haar gewurg totdat sy bewussyn verloor het.
Wilson was glo onder die indruk dat sy al dood is en het haar in ‘n graf begrawe wat hy met klippe bedek het.
Die meisie, wat die beweerde misdaad aan die polisie gerapporteer het, het aan die polisie gesê dat sy haar bewussyn herwin het en haarself uitgegrawe het.
Wilson verskyn Vrydag in die hof.
Owerhede in Jamaika sê die ontvoering van meisies het onlangs toegeneem. Hul blameer taxi-bestuurders vir meeste van die gevalle.
Volgens dié owerhede maak taxi-bestuurders misbruik van vroulike passasiers wat alleen na plaaslike of geïsoleerde areas reis.
- Sapa-AP