Man vas wat skedels smokkel
2009-10-26 08:41
Beijing – ‘n Chinees-Amerikaanse akademikus is tot agt jaar tronkstraf gevonnis nadat hy menslike skedels wat in China opgegrawe is, verkoop het.
Owerhede het slegs die man se van bekend gemaak as 'Ding'.
Ding (44) het as ‘n konsultant in Beijing gewerk en is in hegtenis geneem nadat hy 20 skedels via skip na Amerika probeer stuur het. Polisie het sowat 1100 skedels by sy huis gekry. Meeste daarvan is sowat 60 jaar oud, maar sommige skedels dateer sover terug tot 1840.
Ding se inhegtenisname kom nadat die Amerikaanse federale speurdiens (FBI) Chinese polisie verlede jaar in kennis gestel het dat hy skedels met spoedpos die VSA instuur.
Ding het skedels begin versamel nadat hy gegraveerde beendere by ‘n mark in Beijing gekoop het. Hy het daarna skedels op grootmaat begin aanskaf.
Ding sal sy vonnis appèlleer. Sy regsverteenwoordiger voer aan dit is nie onwettig om ou skedels te verkoop nie.
- Sapa