Man vas wat 100 luukse motors verbrand
2011-10-24 16:36
Berlyn – ‘n Man wat meer as 100 motors in Berlyn verbrand het, se optrede is deur afguns en frustrasie aangevuur, het polisielede wat hom vasgetrek het gesê.
Die 27-jarige man het aan polisielede gesê hy is werkloos en in skuld gedompel en dít het hom aangespoor om oor ‘n tydperk van drie maande 67 luukse motors aan die brand te steek.
Sy aanvalle op die luukse modelle van Audi, BMW en Mercedes Benz het ook 35 ander motors in vlamme gelaat.
“Dit is ‘n reuse-triomf,” het die hoof van die Berlynse misdaadafdeling, Christian Steiof, gesê.
‘n Ander polisielid het gesê die man het erken hy het die motors sedert verlede jaar Junie aan die brand gesteek.
“Politiek het hom nie aangespoor nie – dit was sosiale afguns,” het die senior polisielid Oliver Stepien gesê. “Hy het basies probeer sê: ‘Ek het skuld, my lewe is aaklig en ander mense met luukse motors vaar beter as ek.’”
– Lees meer hier.
– Volg Nuus24 op Twitter.