Man vas ná hy Thaise monargie op Facebook beledig
2010-04-30 16:39
Bangkok - Thaise owerhede het 'n man van die Rooi Hemde, 'n anti-regeringsgroep, in hegtenis geneem nadat hy glo die koninklike familie op Facebook beledig het, het die polisie Vrydag gesê.
Wipas Raksakulthai (37) is Donderdag by sy huis in die Rayong-provinsie in hegtenis geneem omdat sy inskrywings op die sosiale netwerk se webtuiste teen Thailand se wet is.
"Wipas het 'n boodskap geskryf wat onvanpas was en nasionale sekuriteit oortree deur die monargie op Facebook te beledig," het Thailand se departement van spesiale ondersoeke gesê.
Volgens die departement se verklaring het die verdagte erken dat hy die Rooi Hemde ondersteun, maar het hy ontken dat hy die monargie beledig het.
- Sapa-AFP