Man vas ná aanval op 'n Amerikaanse konsulaat
2012-12-08 08:10
Washington – Owerhede in Egipte het 'n vermeende terreur-ringleier in hegtenis geneem in verband met 'n aanval op 'n Amerikaanse konsulaat in Libië, is berig.
Muhammad Jamal Abu Ahmad, 'n voormalige lid van die Egiptiese Islamtiese Jihad, wat in Maart 2011 vrygelaat is nadat die Egiptiese leier Hosni Mubarak ontsetel is, is die afgelope week in hegtenis geneem, het die Wall Street Journal berig.
'n Amerikaanse beampte het aan die nuusagentskap AFP bevestig dat Ahmad aangehou word, maar geen verdere inligting is verskaf nie.
Dit is nie bekend waar die verdagte gevang is nie.
Die Amerikaanse ambassadeur, Chris Stevens, en drie ander Amerikaners is op 11 September dood in ’n terreuraanval op die Amerikaanse konsulaat in Benghazi, Libië.
Sedert sy vrylating uit die tronk, het Ahmad na bewering 'n groep saamgestel en het opleidingskampe in Libië en Egipte gehou. Hy het ook befondsing van Al-Kaïda se tak in Jemen ontvang, het die Wall Street Journal verder berig.
Die verdagte is volgens die berig nog nie ondervra nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP