Man tronk toe wat Adolf Hitler se verjaardag vier
2011-09-16 09:03
Innsbruck. – ’n Oostenryker wat glo Adolf Hitler se verjaardag gevier, mense met die Nazi-saluut gegroet het en Nazi-simbole soos die swastika bewonder, is in ’n hof in Wiener Neustadt tot 18 maande tronkstraf gevonnis. 12 daarvan is opgeskort.
Die 54-jarige man, wie se naam nie bekend gemaak is nie, het al die aanklagte teen hom wat met die oortreding van die land se anti-Nazi-propagandawetgewing verband hou, ontken.
Regter Ingeborg Kristen het die vonnis vroeër vandeesweek as ’n voorkomingsmaatreël beskryf om jongmense te beskerm met wie die veroordeelde glo gereelde kontak het.
Die man, wat luidens berigte in die nasionale media ’n medestigter van die verbode Oostenrykse Nasionalistiese Party was, het wel in die hof erken dat hy onwettig ’n vuurwapen besit het.
Die uitspraak en vonnis is nog nie van krag nie omdat die staatsaanklaer nog ’n finale verklaring aan die hof moet doen. Die beskuldigde het egter nie geappelleer nie.
Sake wat verband hou met die verspreiding en ondersteuning van neo-Nazi-propaganda of die besit van en handel dryf in artikels wat simbolies met Nazi-Duitsland verbind kan word, het van 2009 tot verlede jaar met sowat 40% toegeneem. 741 sake is volgens statistieke toe aangemeld.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld