Man tereggestel wat kind moor, foto vir ma stuur
2013-02-21 08:10
Tokio – Owerhede in Japan het 'n kindermoordenaar en twee ander mans wat aan moord skuldig bevind is, Donderdag gehang.
Dit is die eerste teregstellings in dié land sedert 'n konserwatiewe regering in Desember aan bewind gekom het.
Kaoru Kobayashi, 44, het in 2004 'n sewejarige meisie vermoor en 'n foto van haar lyk aan haar ma gestuur, terwyl Masahiro Kanagawa, 29, 'n man buite 'n winkelsentrum in Tokio in 2008 met 'n mes doodgesteek het en verskeie ander mense aangeval het.
Hy het in dieselfde jaar ook 'n ander man in 'n aparte voorval vermoor.
Die derde was Keiki Muto, 62, wat die eienaar van 'n kroeg in 2002 verwurg het om geld te steel.
"Ek het opdrag gegee dat die teregstellings gedoen word ná ek die saak versigtig oorweeg het," het Sadakazu Tanigaki, minister van justisie, Donderdag in 'n mediakonferensie in Tokio gesê.
"Hierdie was uiters wrede sake waarin die slagoffers hulle lewens verloor het weens baie selfsugtige redes."
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP