Man tereggestel wat eie kinders eet
2013-01-28 11:37
Noord-Korea – ‘n Man in Noord-Korea is tereggestel nadat hy sy twee kinders vermoor en geëet het, het berigte gelui.
‘n Hongersnood in die provinsies Noord- en Suid-Hwanghae, wat hoofsaaklik uit boerderygemeenskappe bestaan, het reeds die lewens van 10 000 mense geëis en owerhede vrees dat voorvalle van kannibalisme aan die toeneem is, berig die Daily Mail.
‘n Droogte in die gebied het die krisis veroorsaak.
Geheime verslaggewers van Asia Press het aan die Sunday Times vertel hoe een man sy kleinkind se lyk opgegrawe en geëet het. ‘n Ander man het sy eie kind gekook vir kos.
Ten spyte van berigte oor die wydverspreide hongersnood in die land, het die 30-jarige Kim Jong Un, leier van Noord-Korea, in onlangse maande 'n groot hoeveelheid geld gespandeer op die lansering van missiele.
Een informant het gesê: “’n Man in my dorp wat sy eie twee kinders vermoor en probeer eet het, is voor ‘n vuurpeloton tereggestel.”
Volgens die informant het die pa sy oudste dogter vermoor terwyl sy vrou weg was vir werk. Hy het sy seun daarna ook om die lewe gebring omdat hy 'n ooggetuie was.
Die vrou het met haar terugkeer agterdogtig geraak toe haar man skielik gesê het hulle het “vleis”. Sy het met beamptes in verbinding getree en die kinders se oorskot is gevind.
Volgens geheime verslaggewers is kos in die twee provinsies waar die hongersnood tans heers, gekonfiskeer en aan inwoners van die hoofstad Pyongyang gegee.
– Lees meer hier.
– Volg Nuus24 op Twitter