Man sterf ná hy kokaïene sluk
2011-12-22 17:37
Suid-Carolina – 'n Amerikaanse man wat sy broer oorreed het om kokaïene te sluk nadat hulle in hegtenis geneem is sal vir sy moord aanspreeklik gehou word.
Volgens berigte het die 20-jarige Wayne Joshua Mitchell, 'n uur nadat hy die dwelms ingeneem het, inmekaargesak en gesterf.
Die dwelms was in sy ouer broer se agterstewe versteek. Mitchell het dit ingesluk om sodoende te help ontslae raak van die bewyse terwyl hulle agterin 'n polisiemotor gesit het.
Video-kameras wat in die motor was het gewys hoe Mitchell se 23-jarige broer hom oorreed om die dwelms te sluk. Hy is intussen van moord aangekla.
Die voorval het op 30 November gebeur maar die polisie het eers vir toksikologiese toetse gewag voordat hulle Mitchell se ouer broer van onvrywillige manslag aangekla het.
Dié twee broers is deur die polisie van die pad afgetrek nadat hulle agtergekom het een van die motor se hoofligte werk nie.
Die polisiebeamptes het die twee broers agterin 'n polisiemotor laat sit terwyl hulle die motor deursoek het.
Beeldmateriaal van 'n video-kamera het gewys hoe DeAngelo Mitchell aan sy jonger broer sê om die kokaïene te sluk wat hy in sy besit gehad het omdat hy al vantevore vir die besit van dwelms in hegtenis geneem is.
Wayne, wat gesukkel het om asem te haal nadat hy die dwelms gesluk het, is dood nadat dokters nie daarin kon slaag om hom by te bring nie.
– Iol.
– Volg Nuus24 op Twitter.