Man steek eie vrou met Vigs-naald
2009-12-06 08:40
Wellington - 'n Nieu-Seelandse man met Vigs het sy vrou met 'n naald vol van sy bloed geprik sodat sy by hom sou bly.
'n Plaaslike koerant, die Sunday Star-Times, het hofdokumente aangehaal wat beskryf het hoe die man sy vrou twee keer met 'n naald vol bloed gesteek het.
Sy vrou het hom glo ook met 'n spuitnaald vol bloed gevang.
Die 35-jarige man het erken dat hy sy 33-jarige vrou met sy bloed besmet het.
Hy kan tot 14 jaar tronkstraf opgelê word wanneer sy saak vroeg aanstaande jaar in die Aucklandse hooggeregshof voorkom.
Die man het in 2004 uitgevind hy is MIV-positief tydens gesondheidsondersoeke toe die gesin na Nieu-Seeland verhuis het.
Sy vrou wou die paartjie se verhouding ter wille van hul kinders voortsit, maar het geweier om weer met haar man seks te hê uit vrees dat hy die MI-virus aan haar sou oordra.
Volgens die vrou het sy in Mei verlede jaar 'n steekplek op haar linkerdy ontdek. Twee dae later het sy wakker geword van 'n brandsensasie in haar been.
Vier maande daarna het die vrou tydens 'n roetine-ondersoek uitgevind sy is MIV-positief.
Sy het haar man gekonfronteer en hy het erken dat hy haar met 'n naald vol van sy bloed geprik het.
"Al wat hy gesê het, was dat hy jammer was. Sy woorde was: Ek het die naalde gebruik omdat ek wou hê jy moet dieselfde as ek wees. Ek wou hê jy moet by my bly."
- Sapa-AFP