Man pleeg selfmoord ná hy met dwelms betrap is
2010-12-27 21:07
Manila – ‘n Amerikaanse vlootbeampte het Maandag in die Filippyne na sy dood gespring nadat hy by ‘n lughawe in hegtenis geneem is vir die besit van kokaïne, het die polisie gesê.
Luitenant kommandeur Scintar Mejia (35) was Sondag besig om aan boord sy vlug van Manila na Los Angeles te gaan toe ‘n pakkie kokaïne in sy bagasie gevind is.
Volgens senior supt. Manuel Pintado het Mejia weerbarstig geraak nadat hy met die dwelms betrap is.
Mejia het ook glo Manila se Ninoy Aquino internasionale lughawe daarvan beskuldig dat hulle hom valslik betrek het.
Volgens Pintado is die verdagte oornag by die lughawe aangehou. Mejia het Maandagoggend selfmoord gepleeg nadat hy toestemming gevra het om na die badkamer te gaan, het Pintado gesê.
“Op pad na die toilet het hy skielik van sy begeleiers weggehardloop,” het Pintado vertel. Mejia het daarna glo in ‘n stel trappe ingeduik.
“Hy het gesterf terwyl hy by ‘n hospitaal behandel is.”
Volg Nuus24 op Twitter.