Man spandeer 102de verjaardag by werk
2009-12-16 02:15
Rio de Janeiro - Oscar Niemeyer, Brasilië se mees bekende argitek, het Dinsdag sy 102de verjaardag soos meeste voriges spandeer: aan die werskaf aan sy projekte.
"Dis sommer tjol om 102 te word," het Niemeyer aan AFP gesê. "Daar is niks om te herdenk nie."
Niemeyer is in 1907 in Rio de Janeiro gebore, en woon steeds in die stad.
Van die geboue wat sy stempel dra is die stad se bekende Sambodrome, sowel as die museum vir kontemporêre kuns op die nabye eiland Niteroi.
Niemeyer het ook verskeie futuristiese geboue in die hoofstad, Brasilië, ontwerp.
Die argitek werk huidiglik aan 'n projek om die bekende weg deur die Sambodrome op te knap.
Hy is ook besig om die Niemeyer-kompleks op Niteroi te ontwerp, sowel as die Aviles internasionale kulturele kompleks, wat eersdaags in Spanje oopmaak.
- Sapa-AFP