Man sny vrou se neus, lippe af
2011-12-19 16:47
Pakistan – 'n Pakistanse man het sy tienervrou se neus en lippe afgesny omdat sy glo te veel tyd saam met haar ouers deurbring, het beamptes Maandag gesê.
Ghulam Qadir (22), wat glo 'n stormagtige huwelik met die 18-jarige Salma gehad het, het haar Saterdag met 'n mes gesteek. Die voorval het in die dorp Karkana, sowat 475 km suidwes vanaf Islamabad gebeur.
"Qadir het Saterdagoggend sy vrou, Salma, se neus en lippe afgesny. Hy het daarna gevlug," het Nadir Khan, 'n administratiewe beampte gesê.
"Hulle het gereeld argumente gehad omdat die meisie meer tyd saam met haar ouers deurgebring het," het Khan gesê.
Qadir en Salma is reeds 'n jaar getroud.
Volgens Khan is die polisie tans op soek na Qadir.
Die meisie se ouers het haar intussen na 'n hospitaal geneem en sy is buite gevaar.
Die televisiekanaal Express het beeldmateriaal van Salma gewys waar sy in haar hospitaalbed lê met 'n wit veband om haar neus en lippe. Sy het ook 'n rooi kopdoek opgehad.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP