Man skiet brandbestryders in lokval dood
2012-12-25 08:28
New York – 'n Veroordeelde misdadiger het Maandag in Rochester, New York twee brandbestryders doodgeskiet en nog twee gewond nadat hy brand gestig het om vir hulle 'n lokval te stel.
Daarna het die 62-jarige skieter – wat skuldig bevind is aan manslag en tot 17 jaar tronkstraf gevonnis is vir sy ouma se dood in 1980 – homself om die lewe gebring, het 'n polisiewoordvoerder in Webster, 'n woonbuurt van Rochester aan die kus van die Ontario-meer, gesê.
Sy suster, wat saam met hom gewoon het, word vermis. Ondersoekbeamptes kon nog nie die motief van die aanval vasstel nie.
"Dit wil voorkom asof hy 'n lokval vir die brandweerbeamptes gestel het," het Webster se polisiehoof, Gerald Pickering, by 'n mediakonferensie gesê.
"Mense wat in die middel van die nag opstaan om brande te gaan blus verwag nie om doodgeskiet te word nie," het hy bygevoeg.
Volg
Nuus24 op Twitter.
- AP