Man skiet Italiaanse priester in kerk dood
2011-10-17 09:04
Cotabato – ‘n Italiaanse katolieke priester is binne sy kerkkompleks in die suidelike Filippyne doodgeskiet, het die polisie gesê.
Volgens die polisie is Fausto Tentorio deur 'n onbekende gewapende man in die afgeleë landboudorp Arakan op die Mindanao-eiland geskiet.
Resty Damaso, ‘n polisiewoordvoerder, sê ‘n verdagte het Maandag “skielik verskyn en sonder enige uitlokking die slagoffer geskiet...”
Luidens Damaso se mediaverklaring is Tentorio na ‘n hospitaal geneem waar hy dood verklaar is.
Plaaslike polisiebeamptes het aan verslaggewers gesê die gewapende man het op die vlug geslaan. Die motief vir die moord is nie bekend nie.
Volgens Jessica Gokotano, ‘n plaaslike maatskaplike werker, het Tentorio lank as ‘n priester in die gebied gedien. Sy sê hy het geen vyande gehad nie.
“Hy was ‘n goeie mens en almal het van hom gehou,” het Gokotano aan die nuusagentskap AFP gesê. Sy sê Tentorio was in sy 60’s.
Daar word berig dat talle gewapende groepe, waaronder Moslem-rebelle, naby die gebied gebaseer is.
Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP