Man skiet 7, toe self
2011-07-08 07:49
Grand Rapids – 'n Man het sewe mense doodgeskiet en verskeie ander in 'n huis in Michigan as gyselaars aangehou voor hy homself doodgeskiet het, het die polisie gesê.
Die gyselaars is almal veilig, het Kevin Belk, 'n polisiehoof, gesê.
Die voorval het plaasgevind ná verskeie gewapende polisielede ‘n kordon getrek het om ‘n woonbuurt in die noorde van die stad naby die hoofweg.
Polisielede het inwoners gewaarsku om in hulle huise te bly en het ander uit die gebied ontruim.
Amptenare is nie seker wat die 34-jarige man, Rodrick Shonte Dantzler, se motief was nie.
Die soektog na Dantzler het begin ná vier mense in ‘n huis dood gevind is.
Daarna is drie ander in ‘n nog ‘n huis in ‘n ander deel van die stad dood gevind.
Twee van die slagoffers was kinders.
“Ons dink die verdagte het ten minste een mens by elk van die tonele geken,” het Belk gesê.
Dantzler is in 2005 uit die tronk vrygelaat ná hy ‘n vonnis vir aanranding uitgedien het.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AP