Man sit 20 jaar ná hy Thaise koningin beledig
2011-11-23 18:02
Bangkok – ‘n Hof het ‘n man tot 20 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy “beledigende” teksboodskappe aan Thailand se koningin gestuur het.
Amphon Tangnoppaku (60) is Woensdag skuldig bevind op vier aanklagte dat hy die monargie beledig het en wette rakende rekenaarmisdade oortree het.
Thailand se wette oor die belediging van die monargie is die strengste ter wêreld.
Die hof sê Amphon het aanstootlike teksboodskappe in Mei 2010 aan ‘n persoonlike sekretaresse van die destydse premier, Abhisit Vejjajiva, gestuur.
Amphon het die aanklagte teen hom ontken en gesê hy weet nie hoe die teksboodskappe op sy selfoon gewerk het nie. Hy sê ook hy het nie geweet wie sy boodskap ontvang het nie.
Amnestie Internasionaal se Benjamin Zawacki het Amphon se skuldigbevinding veroordeel en die regering daarvan beskuldig dat die party vryheid van spraak onderdruk.
Zawacki het Amphon as ‘n “politieke gevangene” beskryf.
Amphon is op 3 Augustus 2010 in hegtenis geneem en sonder borgtog in ‘n tronk in die Thaise hoofstad, Bangkok, aangehou.
Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AP