Man onthoof vir moord
2011-11-13 20:57
Riyadh – ‘n Man wat skuldig bevind is aan die moord op ‘n mede-Saoedi-Arabier is Sondag in die suide van dié land onthoof, het die ministerie van binnelandse sake gesê.
Dit laat die hoeveelheid teregstellings tot dusver in dié land tot minstens 68 styg.
Die ministerie het in ‘n verklaring wat uitgereik is deur die staat se nuusagentskap, SPA, gesê Mohammed al-Jawad is daaraan skuldig bevind dat hy Ali al-Yami doodgeskiet het.
Amnesty International het in September ‘n beroep gedoen op dié ultra-konserwatiewe Moslem-koninkryk om ‘n onmiddellike moratorium te plaas op teregstellings.
Verkragting, moord, geloofsversaking, gewapende roof en dwelmhandel tel onder die misdade wat tot teregstelling kan lei in dié land.
- Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP