Man met goue toilet sterf
2010-02-10 22:11
Hong Kong – ‘n Flambojante Hong Kongse sosiale vlinder, wat die stad se eerste goue toilet besit het, en rondgereis het met sy modepop-vrou in ‘n pienk Rolls Royce, is op die ouderdom van 75 oorlede, het sy seun Woensdag gesê.
Chau Kai-bong, ‘n prokureur, het in ‘n goue herehuis gewoon. Alles was goud in die huis, van die vensterrame tot die badkamer se afrondings.
Kai-bong se seun, Brandon, ook ‘n prokureur, het gesê sy pa het Dinsdag vir die eerste keer sy pasgebore kleinseun gesien, voordat hy sy stryd teen kanker verloor het.
Kai-bong en sy vrou Brenda het altyd swierige geleenthede bygewoon in hul uitheemse uitrustings, en het ook gereeld die sosiale bladsye gehaal.
- Sapa-AFP