Man met 59 kg se ivoor gevang
2011-01-05 20:03
Taipei – ‘n Taiwannese man is op 'n lughawe in Taipei met 59kg se ivoor, wat uit Malawi uit kom, gevang.
Hy is op die Taoyuan Internasionale Lughawe naby Taipei in hegtenis geneem.
Beamptes het agtergekom dat die man, wat net as Hsiao bekendstaan, senuweeagtig is, en het sy bagasie deursoek.
Hulle het 21 tande sowel as ‘n klomp verwerkte ivoor gevind.
Hy het altesaam 59 kg ivoor die land probeer insmokkel.
Hsiao, wat sake doen in Malawi, sê dat hy die ivoor wettig teen omtrent R670 per kilogram gekoop het.
Hy wou dit blykbaar gebruik om ivoorbeeldjies te kerf.
Dit is egter onwettig om met ivoor handel te dryf in Taiwan en indien hy skuldig bevind word, sal Hsiao (65), tot sewe jaar agter tralies deurbring.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA