Man messel homself in kelder toe
2010-11-28 02:00
Berlyn – ’n Duitse doen-dit-self-geesdriftige het homself per ongeluk in sy eie kelder toe gemessel en kon slegs ontsnap deur sy pad na sy buurman se huis oop te boor, het die polisie gesê.
Die 64-jarige pensioentrekker van die oostelike dorp Gumperda wou blykbaar die ingang na sy kelder afsluit en is met bakstene, sement, kos en drank na die kelder.
Hy was egter aan die verkeerde kant van die muur toe die werk klaar is.
Nadat hy die hele naweek vasgekeer was, het hy Maandag besluit om ’n plan te maak. Hy het met ’n boor aan die brandmuur, wat sy huis en die van sy bure skei, begin werk.
Die bure, met wie die man reeds maande vasgesit het, het die polisie gebel toe hulle die geraas hoor. Toe hy uiteindelik deurbreek en homself bevry, het polisiebeamptes die pensioentrekker aan die ander kant ingewag.
- Sapa - AFP