Man maak kat gerook
2009-09-10 17:17
Londen – ‘n Britse man wat sy kat geforseer het om cannabis in te asem, mag vir die volgende 10 jaar nie diere aanhou nie.
Hy het klaarblyklik die kat in ‘n sak gesit en daggawalms in die sak ingeblaas. Daarna het hy die sak hoog bo sy kop rond geswaai.
Mark Kane (20) het dit selfs op sy selfoon afgeneem. In die agtergrond kan mens iemand hoor skree: “Die kat raak van sy kop af gerook!”
Kane, wat skuldig gepleit het op twee aanklagte van dieremishandeling, het ‘n opgeskorte vonnis van 12 weke ontvang.
“Ons dink die klagte van dieremishandeling is ontstellend. Dit het die troeteldier in u sorg, erge stres en onnodige lyding gekos,” het landros Ken Buck aan Kane gesê.
Clive McKeag, aanklaer, het gesê dit is ‘n “walglike” oortreding en ‘n “ongelooflike wrede daad”.
Die kat behoort nie aan Kane nie, maar was wel in sy sorg geplaas. Sedert die voorval, is die kat skoonveld.
- AFP