Man los ma se lyk sewe dae in woonstel
2012-08-28 21:13
Taipei – ‘n Man is in Taipei op vermoede van manslag in hegtenis geneem omdat hy glo ‘n week ná sy ma se dood nie geweet het sy het in sy woonstel gesterf nie, het die plaaslike media Dinsdag berig.
Beamptes in die Taoyuan-provinsie het die lyk van die 53-jarige Yeh Feng-chu in ‘n kamer van haar seun, Chang Chih-chiang, se woonstel gevind.
Chang se vrou het die polisie gekontak nadat sy op die lyk afgekom het.
Die lyk het reeds begin ontbind, het die Apple Daily berig.
Beamptes sê Yeh was bedlêend voordat sy dood is en het gely aan ‘n degeneratiewe senuwee-versteuring, sowel as diabetes.
Chang (35) doen herstelwerk aan lugversorgers en het gereeld tot saans laat videospeletjies by internetkafees gespeel, eerder as om terug te keer huis toe, het die polisie gesê.
Hulle het besluit om hom aan te hou nadat hy nie basiese vrae oor sy ma se toestand kon beantwoord of sê hoe daar na haar omgesien is nie.
Die polisie het besluit om nie Chang se vrou aan te kla nie, aangesien sy aanduidings gegee het dat sy na haar skoonma omgesien het.
Indien Chang skuldig bevind word, kan hy tot sewe jaar tronkstraf gevonnis word vir manslag weens nalatigheid, het die Liberty Times berig.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa-DPA