Man kry hartaanval ná hy weghol-trem jaag
2010-06-18 20:10
Praag – ‘n Trembestuurder het ‘n weghol-trem op ‘n fiets gejaag, ná ‘n lang jaagtog ingehaal en toe in die hospitaal opgeëindig met ‘n hartaanval, het die koerant DNES Vrydag berig.
Die leë trem, waarvan die remme nie aan was nie, het by ‘n depot in die weste van Praag deur ‘n toe hek gejaag, op die spoor voortgery en ‘n besige vierbaanstraat in die proses oorgesteek.
Tegnici het die krag afgeskakel, maar die trem het nog vir sowat ‘n kilometer by die pad afgejaag.
Die bestuurder, wat waarskynlik vergeet het om die rem aan te sit, het in die tussentyd ‘n verbyganger voorgekeer, sy fiets geleen en uiteindelik die trem ingehaal om dit te stop.
“’Beeldmateriaal toon dat die bestuurder die trem ingehaal en uiteindelik tot stilstand gebring het,” het DNES aangehaal.
Tog was die voorval, wat Woensdag plaasgevind het, te veel vir die bestuurder, rondom 50 jaar oud, en het hy ‘n hartaanval gekry.
“Sy lewe is nie in onmiddellike gevaar nie,” het Eva Jurinova van die Praag-Motol-hospitaal aan die koerant gesê.
Die bestuurder kan tot drie jaar tronkstraf in die gesig staar indien hy skuldig bevind word aan ‘n ernstige oortreding van werkspligte, nadat geen fout aan die trem gevind was nie.
Volg Nuus24 op Twitter
- AFP